About Me

My photo
Gqeberha, Eastern Cape, South Africa

Thursday, August 1, 2013

DI SMS-TAAL WT OS PRAT


“Hi bru. K wndr wmj vndag. Dux j of is j al op?” Ek kry ‘n hol kol op my maag. Is my taal besig om te sterf? Ek dink aan prof. Ampie Coetzee, emeritus-professor in Afrikaans aan die Universiteit van Wes-Kaapland, se voorspelling dat Afrikaans gaan uitsterf as onderwystaal. ‘n Donker vooruitsig! Ek kyk na die onleesbare SMS wat ‘n vriend my stuur. Of is ek dalk disleksies? Ek antwoord nie dadelik nie. Na tien minute kom nog ‘n SMS boodskap deur. Weereens onleesbaar. Ek bel hom. “My selfoon se skerm is seker weer opgeneuk want jou SMS’e is nie leesbaar nie.” Hy lag. “Jy moet “kom by”, broer. Dis SMS-taal. ‘n Man het te min airtime om lang sinne te skryf. There’s no time for airtime. Hoe korter, hoe beter.
 
Ek kry anyway meer SMS’e uit soos daai!” Ek maak keelskoon. “O, ek hoor jou, maar ek sukkel om daai Latyns te verstaan...” Hy skree van die lag op die agtergrond. “Laat ek explain,” keer hy. “Hi k wndr wmj vndag. Dux j of is j al op?” beteken “Hallo, ek wonder wat maak jy vandag. Slaap jy of is jy al op?” Ek lees die SMS weer en verstaan meteens sy boodskap. “Nee, ek slaap nie. Ek is al douvoordag op want ek moet voor die einde van die week ‘n kortverhaal vir my uitgewer gereed hê. Die eerste en beste idees kom immers vroegoggend wanneer mens in voeling is met jou onbewustelike self. Is dan in staat om te delf in die rykdom van materiaal wat gedurende die dag begrawe word.” Hy skree weer van die lag. “Jy klink soos Paula van Sewendelaan, my broer!”

Later die dag kry ek weer ‘n SMS van hom af: “Bru wt mak ns di nawek? Of j leka ani slp?” Ek vuur 'n SMS boodskap af aan hom: “Fone me if u hav sometin 2 sy 2 me!" My sel lui. My “Latynse” vriend se nommer flits op die skerm. Ek kan sy gedempte lag hoor. “Jy kan mos lekker sms-taal gooi, broer!” Ek lag saam. “Stuur maar gerus nog van daai SMS’e na my toe. Ek wil ‘n volle rubriek doen in SMS-taal. Ek wil dit na ‘n koerant toe stuur.” Hy dink dis ‘n goeie idee aangesien dit meer jongmense sal lok om koerant te lees. “Dit gaan cool wees. Jongmense het nie altyd lus vir stywe Afrikaans nie. Afrikaanse SMS-taal kan dalk ook een van die land se amptelike tale word. Koerante is anyway vir jonk en oud bedoel,” voeg hy by. Later die aand bel hy en vra wanneer begin ek skryf aan my eerste SMS-rubriek. SMS-taal is cool, maar wat van Afrikaans? Basta! Hy meen ek is onnodig angstig oor Afrikaans se oorlewing. Maar beslis nie irrasioneel nie!

Die ontwikkeling van die internettegnologie het gelei tot die ontstaan van goedkoop en nuwe kommunikasiemiddele. Facebook en Twitter is op selfone beskikbaar. Ek begin toe hardop wonder: Is lesers gereed vir ‘n rubriek in SMS-taal? Is redakteure gereed? Ek reik na my selfoon en begin my SMS-dialek te oefen. Ek moet erken dat dié loslittige taal baie bevrydend voel. Selfoon-gebruikers glo mos immers dat SMS-dialek jou boonop tyd én geld bespaar. Ek dink weer aan die idee van ‘n rubriek in SMS-taal. Eendag wanneer daar so ‘n rubriek gaan verskyn, hoop ek dat dit myne sal wees.

No comments:

Post a Comment

My childhood days during the Christmas season on my grandparents' farm in Alexandria

 Whenever I hear a song or experience the smell of farm food, it feels like I’m being transported back to my childhood days on a farmhouse i...