My blog consists of articles, essays, poetry, views on literature, creative writing, and society.
Saturday, August 1, 2026
My kinderboek 'Skitterdinge en Skoeloeloe'
Kreatiewe Beserings
Kreatiewe Beserings – Selwyn Milborrow
Ek dra al dekades lank die littekens van ’n kreatiewe besering. As ’n bruin seun in die laat tagtigs, midde-in apartheid, het ek op hoërskool geleer dat woorde wapens kan wees; hulle vorm persepsies, bou verhoudings, inspireer, breek af, en maak seer.
Op sestienjarige ouderdom het ek ’n opstel geskryf - ’n storie geïnspireer deur die boeke wat my wêreld was. Ek het die woorde soos bakstene gerangskik, elkeen met mekaar gebalanseer. Maar toe ek my opstel indien, het die onderwyser dit met rooi ink gemerk: “swak, verbeeldingloos!” Hy het nie eers my naam onthou nie. Net toe ek daarvan wou vergeet, het die voorligtingsonderwyser maande later my droom om skrywer te word uitgelag. Hy het almal in die klas gevra om beurtelings op te staan en ons toekomsdrome te deel. Sy aansteeklike lag vir my onmoontlike toekomsdroom het my klasmaats saam laat uitbars van die lag. Ek moes leer: my woorde is belaglik. My stem en my taal is bruin, onwaardig en dom. Terloops, die onderwysers was almal ook bruin! Dit het iets in my binneste seergemaak, geskroei, en beskadig.
Dit gaan natuurlik ook oor ‘emotional inheritance’. Die dinge wat ons onderwysers, ouers na ons toe oorgedra het. Die traumas waarvoor ons nooit gevra het nie, die respek en aanvaarding wat ons nooit ontvang het nie. My bruin Afrikaans by die huis het helsbreed verskil van die wit Afrikaans in die klaskamer. My ouers het my herinner om mooi Afrikaans te praat soos ek op skool leer. So, dit strek verder terug as net ‘n ervaring met ’n onderwyser of professor. My ouers, familie, kindervriende was karweiers van daardie ‘emotional inheritance’. Ons moet ons hele lewe konfronteer. Die kollektiewe geheue is kragtig!
Jare later het ek ’n naam daarvoor gevind: kreatiewe besering. Dit is in ’n brief wat Suleika Jaouad oor haar kreatiewe besering met lesers gedeel het. Sy het beskryf hoe kinders se verwondering deur volwassenheid vernietig word. Haar woorde het my diep getref, maar ook lig en verligting gebring. Dit was presies wat ek jare gelede ervaar het. Ek wou vir jare nie daardie vernedering op hoërskool met mense deel nie. Elke keer as ek ’n nuwe stuk wou begin, het ’n stem gefluister: "Hou dit vir jouself. Blootstelling beteken pyn."
Met elke digbundel en boek herwin ek ’n stukkie van die kind wat kreatiewe beserings opgedoen het, wat geweet het: skepping is ’n daad van rebellie. My ma en my wit antie het seker gemaak dat ek dit onthou.
Jaouad is reg: kreatiwiteit en verwondering vergaan nooit heltemal nie. Hulle lê begrawe onder die littekens - geduldig, wag om opgegrawe te word. Tussen die kloof van pyn skemer die lig van heelwording. En so, met elke letter wat ek neerpen, eis ek iets terug: nie net vir die man en skrywer wat ek nou is nie, maar vir daardie seun wat geglo het sy stem tel nie.
Dan is daar ook die ironie! Dat dit ’n wit vrou was wat my aan die hand - of my pen - gevat het in hierdie heelwording van my kreatiewe beserings. Sy, wat self geen littekens van my stryd gedra het nie, het ’n persoonlike en kulturele brug geword. Dis dalk die grootste wonder van alles: dat genesing soms uit onverwagte oorde kom, en dat selfs in die skadu van onreg, die mensdom sy menslikheid en medemenslikheid kan wys.
Monday, July 20, 2026
My kinderboek Skitterdinge en Skoeloeloe: van Windhoek se rakke tot in Suid-Afrikaanse harte
📚 Van Windhoek se rakke tot in Suid-Afrikaanse harte
Dit maak my hart vol om my boek Skitterdinge en Skoeloeloe op 'n boekrak in Namibië te sien staan. Die storie begin juis hier, in Windhoek, en beweeg dan saam met die hoofkarakter, Zandi, na Suid-Afrika toe.
Zandi is 'n jong Namibiese meisie wat saam met haar ma van Windhoek na Suid-Afrika verhuis. Sy worstel met vrae en angs: Hoe sal haar nuwe lewe lyk? Sal haar nuwe skool, omgewing en maats haar aanvaar? Sy twyfel aan haar identiteit en haar unieke Afrikaanse aksent, en wonder of dit haar dalk 'n buitestaander gaan maak. Haar ouma probeer haar gerusstel, maar diep binne bly die vrees vir wat voorlê.
Die boek raak temas aan waarmee leerders in graad 4 en 5 hulself maklik kan vereenselwig: stereotipering, identiteit, kultuur, boeliegedrag en die vrees vir verandering. Ek het die stories met begrip en deernis geskryf, sodat jong lesers oor empatie, aanvaarding en selfvertroue kan nadink.
Skitterdinge en Skoeloeloe is nie net 'n mooi storie nie. Dit is 'n leerervaring wat jong lesers aanmoedig om verskille te aanvaar en verandering te omhels.
#SkitterdingeEnSkoeloeloe #Afrikaans #Kinderboeke #Windhoek #Namibië #SuidAfrika #Graad4 #Graad5 #Lees #JonathanBallPublishers
My kinderboek 'Skitterdinge en Skoeloeloe'
Waaroor gaan my boek 'Skitterdinge en Skoeloeloe'? Zandi Kauapirura los alles wat sy ken in Windhoek en trek saam met haar ma na Sui...
-
Whenever I hear a song or experience the smell of farm food, it feels like I’m being transported back to my childhood days on a farmhouse i...
-
Aspekte van kwesbaarheid in die poësie van Vincent Oliphant – deur Selwyn Milborrow Hierdie referaat ondersoek verskeie aspekte van kwesbaar...
-
NMMU marches against xenophobia – Selwyn Milborrow While South African troops took to the streets of Johannesburg, about 3000 students...





