📚 Van Windhoek se rakke tot in Suid-Afrikaanse harte
Dit maak my hart vol om my boek Skitterdinge en Skoeloeloe op 'n boekrak in Namibië te sien staan. Die storie begin juis hier, in Windhoek, en beweeg dan saam met die hoofkarakter, Zandi, na Suid-Afrika toe.
Zandi is 'n jong Namibiese meisie wat saam met haar ma van Windhoek na Suid-Afrika verhuis. Sy worstel met vrae en angs: Hoe sal haar nuwe lewe lyk? Sal haar nuwe skool, omgewing en maats haar aanvaar? Sy twyfel aan haar identiteit en haar unieke Afrikaanse aksent, en wonder of dit haar dalk 'n buitestaander gaan maak. Haar ouma probeer haar gerusstel, maar diep binne bly die vrees vir wat voorlê.
Die boek raak temas aan waarmee leerders in graad 4 en 5 hulself maklik kan vereenselwig: stereotipering, identiteit, kultuur, boeliegedrag en die vrees vir verandering. Ek het die stories met begrip en deernis geskryf, sodat jong lesers oor empatie, aanvaarding en selfvertroue kan nadink.
Skitterdinge en Skoeloeloe is nie net 'n mooi storie nie. Dit is 'n leerervaring wat jong lesers aanmoedig om verskille te aanvaar en verandering te omhels.
#SkitterdingeEnSkoeloeloe #Afrikaans #Kinderboeke #Windhoek #Namibië #SuidAfrika #Graad4 #Graad5 #Lees #JonathanBallPublishers





No comments:
Post a Comment