About Me

My photo
Gqeberha, Eastern Cape, South Africa

Wednesday, December 27, 2023

Aspekte van kwesbaarheid in die poësie van Vincent Oliphant

Aspekte van kwesbaarheid in die poësie van Vincent Oliphant – deur Selwyn Milborrow

Hierdie referaat ondersoek verskeie aspekte van kwesbaarheid in die gedigte van die Afrikaanse digter, Vincent Oliphant. Alhoewel sy debuutbundel, Bloed vloei in stilte (1983), en Die sagte vlees (1998) positief ontvang is, het sy werk tot dusver min akademiese belangstelling geniet. Hierdie studie beoog om ‘n dieper insig te bied in die wyse waarop Oliphant kwesbaarheid verweef in sy poëtiese uitinge om sodoende ‘n bydrae te maak tot die akademiese erkenning van sy werk.

Die temas van familie, liefde, verganklikheid, ouderdom, persoonlike verlies, en dood vorm ‘n herhalende patroon in Oliphant se gedigte. Hierdie temas word bespreek deur ‘n stiplees van geselekteerde gedigte uit sy bundels Bloed vloei in stilte (1983), Die sagte vlees (1998), Poësiepalet (2002), en Drieluik (2007). Hy besit die vermoë om na die onmiddellike wêreld om hom te luister en hierdie waarnemings in konfessionele poësie te omskep. Volgens Galvin (2019) spreek die digter op ‘n sekere manier om dinge nader aan die leser te bring:

The poet speaks in a particular way that can “bring things to nearness”. This particular way of bringing things to nearness may have some useful implications for understanding human well-being.

Die mens is vanaf geboorte kwesbaar, hetsy vir siekte of situasies wat ‘n ernstige bedreiging vir sy oorlewing inhou. Dit is daarom nie ‘n keuse nie, maar ‘n alomteenwoordige onderstroom van die mens se natuurlike toestand. Die Cambridge Dictionary (2022) omskryf kwesbaarheid as die kwaliteit om kwesbaar te wees; maklik beseer of aangeval te kan word. Die tema van kwesbaarheid in Oliphant se gedigte word vervolgens ondersoek ten opsigte van die mens se verganklikheid, veroudering, familie en die liefde. Gregory (2017) meen die begrip van broosheid in verband met die mens, is ‘n metafoor wat menslike beperkings in die liggaam of verstand erken. Oliphant se poësie stel gevolglik die leser in staat om op vernuwende wyse met sy eie, of andere se kwesbaarheid in verbinding te bring. Hierdie aspekte strek oor gemeenskaplike, sosiopolitieke en filosofiese aspekte van die lewe. Dit sluit aan by Anker  (2008):

Die onttakeling van die algehele en allesomvattende strukturering van die self het ten doel om die mens in verbinding te bring met die radikale kompleksiteit wat die lewe, die wêreld en die self, in werklikheid is.

Hambidge (1998) skryf die volgende oor hierdie aspek van sy digkuns:

‘n Mens [is] deurentyd bewus van ‘n gevoelige blik op alles. Dis asof sy pen ‘n hommeltuig bekom wat alles vanuit die hoogtes fynkam. Die digter verhul homself snags tussen ‘gevoelige lakens’ want hy weet dat elke dag nog ‘n waarneming sal opeis.

In Die sagte vlees (Oliphant, 1998:9) gebruik hy die mens se lippe om die liggaam se kwesbaarheid te beskryf: “delikaat krul die fyn soenlyn van die lip/ na buite/ om te getuig/ van die teer binneste.” Die brose stemming word beklemtoon deur woorde soos “sag”, “dun”, “allersagste”, “delikaat”, “teer”, en “naakgeklee”. Die liggaam se kwesbaarheid word deur middel van kontraste in die volgende verse uitgebeeld:

sag is die vlees

in ‘n dun vel naakgeklee

op wag

hoog in sy toring van brokkelbare been

is die allersagste oog 

Scholtz (1999:132) brei so uit oor gedigte uit Die sagte vlees:

Die gedigte handel oor die intieme verrukkings maar ook ontreddering waaraan die brose maar ook kwesbare vlees die mens blootstel.

Oliphant beskryf op subtiele wyse die natuurlike aftakeling van die liggaam en die oorgang van lewe na dood. In die gedig “‘n Vigslyer sterf” (2002:23), delf hy in die menslike psige en disintegrasie van die liggaam as gevolg van siekte. Die leser is ontbloot aan die ontstellende realiteit van ‘n sterwende MIV/Vigslyer. Die siekte het sy lyf tot so ‘n mate laat krimp, dat dit nou “klein en seer” is. Hoe meer sy liggaam krimp, hoe moeiliker raak dit om normaal te funksioneer:

die lyf

nou klein en seer

het byna alles reeds verleer

Die verskrikking in sy oë is ‘n finale besef van die liggaam wat besig is om te disintegreer. Teen die einde soek die vigslyer “raad teen al die skade”, en vra hy vir die “genade van sag gaan”:

net die oë bly groter staar

soek na raad teen al die skade

na die genade van sag gaan

na verstaan

Oliphant gebruik temas van die verbygaan van tyd en veroudering effektief in “’n Minnaar bepeins sy veroudering” (1998:49). Die ouer wordende minnaar word al meer bewus van sy swak gesondheid en die naderende dood:

die bloed sal eendag stadiger deur die are pols

die hart wat nou nog wulps galop

al hoe hortender klop

Hierdie bewuswording van die disintegrasie van die liggaam, en die magteloosheid teen die dood, herinner sterk aan Krog (2022:26) se gedig “Dis wanneer ons agterkom” uit Plunder:

maar ja, die vingernaels van die tyd is in ons ingewande

ons sit skielik in die koorskamers van vreeslike siektes

dis die tyd van kanker, alzheimers en parkinsons

ons speur aanhoudend binnetoe na die Groot Teken. 

Dit herinner ook sterk aan die laatwerk van Clinton V. du Plessis. In die laaste strofe van “Lamentasie vir die ou protesdigter” (2017:32), beskryf hy die mens se magteloosheid teen die dood:

Weet dan net nou:

hiérdie bestel kan jy nie omverwerp nie;

die dood is ‘n swaargewapende ewigdurende diktatuur

en jou verset daarteen is van korte duur.

Daar is ‘n finale berusting by die minnaar dat ongeag die liggaam se kwesbaarheid, hy daaraan gewoond moet raak. Daar is deurentyd ‘n naakte veraanskouliking van veroudering, so asof hy ‘n poëtiese x-straal daarvan neem:

die oë sal dof word

die ore doof

die kop sal verander in ‘n haarlose dop

Die temas van liefde en kwesbaarheid word op sober wyse saamgeweef in “Verliefdes” (1998:50). Die leser kry insig in die kwesbaarheid van die verliefdes se verhouding:

kyk hoe leun hulle teen mekaar

hulle glo hulle is raar

en besef nie dis ‘n eeue-oue verhaal

Daar is ‘n geïmpliseerdheid dat die liefdesband nie só sterk is as wat die verliefdes wil glo nie. Die spreker kyk objektief na die verliefdes wat in die onbreekbaarheid van hul liefde glo:

daar is ‘n sekerheid wat hulle uitstraal

asof ‘n magiese krag hulle omgewe

‘n mag wat vir alles sorg

wat hierdie liefde sal waarborg

vir die res van hulle lewe ongeag

Basson (1995) skryf die volgende oor liefdesverhoudings:

‘n Liefdesverhouding is dikwels ‘n geval van verwondering wat oorgaan in verwonding en sodoende aanleiding gee tot “the poetry is in the pity”.

Vir die spreker is die liefde verganklik, en sluit hy aan by Vermaas (1993) se mening:

Liefde is deel van ‘n verganklike aardse bestaan en word eerder ‘n middel om te ontsnap na ‘n “ander wêreld”. Die liefde word deel van ‘n fantasie en dekadensie.

Vir die spreker is die liefde nie in staat om die kwesbares binne die liefdesverhouding te red nie. Ten beste bied dit tydelike skuiling. Dit is egter hier waar die ironie na vore tree. Swenson (2004) skryf só hieroor:

Somehow, we just can’t wrap our minds around this idea of love. We can’t nail it down and say, “There, I’ve got you.” Yes, love is strange. It is weak yet tough, vulnerable yet strong.

Die spreker sluit af met ‘n verdoemende observasie:

hulle glo dit is ‘n onbreekbare band wat hulle bind

en weet nie dis iets wat fyner is

en verwikkelder

as rag

Oliphant se gedig “Breek” (2007:7) belig die tema van mishandeling en kwesbaarheid binne die huwelik. Die spreker skets dit as ‘n plek waarin die mens steeds kwesbaar bly as gevolg van ‘n eksistensiële bedreiging soos fisiese mishandeling. Die man se aggressie teenoor sy vrou word in die eerste strofe vergelyk met die afbreek van ‘n huis:

hy versplinter haar vensters

breek haar deure af

slaan stene uit

Die voorstelling van die kwesbare vrou as “die huis”, word verder versterk deur die ontstellende verwysing na die “ruïne van haar lyf”:

kyk verstom

na hoe die ruïne van haar lyf

op die grond bly lê

verstom na die blare van sy hande

wat pas hamers was

Die hande wat eens “blare” was, word opeens “hamers” in die geweldadige aanval op sy vrou. Die woorde “ruïne” en “hamers” impliseer dat die skade só groot is dat dit haas op vernietiging neerkom. Hy toon egter berou deurdat hy “bieg”:

in wie se lyf hy nes

in wie se boesem hy bieg

‘n Treffende voorbeeld van kwesbaarheid is wanneer die jammerte uit die man se lyf ruk. Ironies genoeg vergewe sy vrou hom onvoorwaardelik omdat sy dit as haar plig beskou:

maar as die jammer uit sy lyf ruk

is dit sy wat hom aan haar boesem druk

haar gebreekte hande voor hom hou

sy is sy vróu

Die paartjie se huwelik bly steeds kwesbaar as gevolg van ‘n voortgesette ontkenning, manipulasie en intimidasie. Die slotsom is dat die atmosfeer in die huwelik uiters gespanne bly, en enige oomblik soos ‘n bord na die vloer sal val en in stukke breek:

terwyl hulle wag

en nie durf weet nie

hoe hulle wag

op wat van hulle gaan word

op die oomblik wat gaan val

soos ‘n bord

Volgens Basson (1995) dui die bloed in Bloed vloei in stilte waarskynlik op leed wat in stilte verduur word. ‘n Motivering hiervoor kom voor in “In stilte” (1983:21):

En as ek eendag seer sou kry

moenie huil nie…

die bloed is altyd daar

die bloed vloei in stilte.

In bogenoemde bundel verskyn seker een van Oliphant se mees persoonlike gedigte, “Elegie vir die pianis” (1983:7). Hy skryf oor die skielike dood van sy broer in ‘n motorongeluk. Die openingsstrofe tref diep:

In die voorkamer staan die blink klavier

verslae

soos ‘n mond wat sy tong verloor het

Die gebruik van die relatief verhewe term “pianis” in plaas van ‘n meer beskeie beskrywing soos “klavierspeler”, dui daarop dat die musikant se vaardigheid hoog aangeslaan was. Die personifikasie in die eerste strofe, “soos ‘n mond wat sy tong verloor het” dui op hoe nouliks die instrument aan die speler verwant was. Daar ironie tref diep wanneer die musikant wat eens “een” met die “blink klavier” was, se vlees dodelik “verstrengel raak met metaal”:

Maar hoe was dit vir jou ou broer

toe jou vlees verstrengel raak met metaal?

Die verwysing na “gelag” en “geratel van teekoppies”, beeld uit hoe die ligte atmosfeer eensklaps in donkerte gedompel word. Die “vergeefse vertroosting van ‘n vader” beklemtoon die familie se magteloosheid teenoor die dood:

nou kan die telefoon enige gelag

of geratel van teekoppies

aan skerwe slaan

tot die histeriese geween van vroue

die vergeefse vertroostinge van ‘n vader

Die kwesbaarheid van die lewe breek aan wanneer die spreker sy broer se lyk moes uitken:

En nou?

ek wou nie glo nie

tot die dag in die lykhuis

toe ek finaal moes staar

na die gate in die hande van vreugde

Hierdie navorsing beklemtoon die wyse waarop Oliphant se fyn waarnemingsvermoë, diep empatie, en poëtiese oeuvre ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot die literêre landskap. Sy gedigte nodig die leser uit tot ‘n sensitiewe en bedagsame beskouing van die menslike ervaring, waar kwesbaarheid nie slegs erken, maar ook omhels word as ‘n inherente deel van ons gedeelde bestaan. In Oliphant se woorde weerklink die kwesbaarheid van die mens as ‘n kragtige en transformerende stem, wat ons aanmoedig om die dieptes van ons eie menslikheid te ontgin.


No comments:

Post a Comment

My childhood days during the Christmas season on my grandparents' farm in Alexandria

 Whenever I hear a song or experience the smell of farm food, it feels like I’m being transported back to my childhood days on a farmhouse i...