Aspekte van kwesbaarheid in die poësie van Vincent Oliphant – deur Selwyn Milborrow
Die onttakeling van die algehele en allesomvattende strukturering van die self het ten doel om die mens in verbinding te bring met die radikale kompleksiteit wat die lewe, die wêreld en die self, in werklikheid is.
Hambidge (1998) skryf die volgende oor hierdie aspek van sy digkuns:
‘n Mens [is] deurentyd bewus van ‘n gevoelige blik op alles. Dis asof sy pen ‘n hommeltuig bekom wat alles vanuit die hoogtes fynkam. Die digter verhul homself snags tussen ‘gevoelige lakens’ want hy weet dat elke dag nog ‘n waarneming sal opeis.
In Die sagte vlees (Oliphant, 1998:9) gebruik hy die mens se lippe om die liggaam se kwesbaarheid te beskryf: “delikaat krul die fyn soenlyn van die lip/ na buite/ om te getuig/ van die teer binneste.” Die brose stemming word beklemtoon deur woorde soos “sag”, “dun”, “allersagste”, “delikaat”, “teer”, en “naakgeklee”. Die liggaam se kwesbaarheid word deur middel van kontraste in die volgende verse uitgebeeld:
sag is die vlees
in ‘n dun vel naakgeklee
op wag
hoog in sy toring van brokkelbare been
is die allersagste oog
Scholtz (1999:132) brei so uit oor gedigte uit Die sagte vlees:
Die gedigte handel oor die intieme verrukkings maar ook ontreddering waaraan die brose maar ook kwesbare vlees die mens blootstel.
Oliphant beskryf op subtiele wyse die natuurlike aftakeling van die liggaam en die oorgang van lewe na dood. In die gedig “‘n Vigslyer sterf” (2002:23), delf hy in die menslike psige en disintegrasie van die liggaam as gevolg van siekte. Die leser is ontbloot aan die ontstellende realiteit van ‘n sterwende MIV/Vigslyer. Die siekte het sy lyf tot so ‘n mate laat krimp, dat dit nou “klein en seer” is. Hoe meer sy liggaam krimp, hoe moeiliker raak dit om normaal te funksioneer:
die lyf
nou klein en seer
het byna alles reeds verleer
Die verskrikking in sy oë is ‘n finale besef van die liggaam wat besig is om te disintegreer. Teen die einde soek die vigslyer “raad teen al die skade”, en vra hy vir die “genade van sag gaan”:
net die oë bly groter staar
soek na raad teen al die skade
na die genade van sag gaan
na verstaan
Oliphant gebruik temas van die verbygaan van tyd en veroudering effektief in “’n Minnaar bepeins sy veroudering” (1998:49). Die ouer wordende minnaar word al meer bewus van sy swak gesondheid en die naderende dood:
die bloed sal eendag stadiger deur die are pols
die hart wat nou nog wulps galop
al hoe hortender klop
Hierdie bewuswording van die disintegrasie van die liggaam, en die magteloosheid teen die dood, herinner sterk aan Krog (2022:26) se gedig “Dis wanneer ons agterkom” uit Plunder:
maar ja, die vingernaels van die tyd is in ons ingewande
ons sit skielik in die koorskamers van vreeslike siektes
dis die tyd van kanker, alzheimers en parkinsons
ons speur aanhoudend binnetoe na die Groot Teken.
Dit herinner ook sterk aan die laatwerk van Clinton V. du Plessis. In die laaste strofe van “Lamentasie vir die ou protesdigter” (2017:32), beskryf hy die mens se magteloosheid teen die dood:
Weet dan net nou:
hiérdie bestel kan jy nie omverwerp nie;
die dood is ‘n swaargewapende ewigdurende diktatuur
en jou verset daarteen is van korte duur.
Daar is ‘n finale berusting by die minnaar dat ongeag die liggaam se kwesbaarheid, hy daaraan gewoond moet raak. Daar is deurentyd ‘n naakte veraanskouliking van veroudering, so asof hy ‘n poëtiese x-straal daarvan neem:
die oë sal dof word
die ore doof
die kop sal verander in ‘n haarlose dop
Die temas van liefde en kwesbaarheid word op sober wyse saamgeweef in “Verliefdes” (1998:50). Die leser kry insig in die kwesbaarheid van die verliefdes se verhouding:
kyk hoe leun hulle teen mekaar
hulle glo hulle is raar
en besef nie dis ‘n eeue-oue verhaal
Daar is ‘n geïmpliseerdheid dat die liefdesband nie só sterk is as wat die verliefdes wil glo nie. Die spreker kyk objektief na die verliefdes wat in die onbreekbaarheid van hul liefde glo:
daar is ‘n sekerheid wat hulle uitstraal
asof ‘n magiese krag hulle omgewe
‘n mag wat vir alles sorg
wat hierdie liefde sal waarborg
vir die res van hulle lewe ongeag
Basson (1995) skryf die volgende oor liefdesverhoudings:
‘n Liefdesverhouding is dikwels ‘n geval van verwondering wat oorgaan in verwonding en sodoende aanleiding gee tot “the poetry is in the pity”.
Vir die spreker is die liefde verganklik, en sluit hy aan by Vermaas (1993) se mening:
Liefde is deel van ‘n verganklike aardse bestaan en word eerder ‘n middel om te ontsnap na ‘n “ander wêreld”. Die liefde word deel van ‘n fantasie en dekadensie.
Vir die spreker is die liefde nie in staat om die kwesbares binne die liefdesverhouding te red nie. Ten beste bied dit tydelike skuiling. Dit is egter hier waar die ironie na vore tree. Swenson (2004) skryf só hieroor:
Somehow, we just can’t wrap our minds around this idea of love. We can’t nail it down and say, “There, I’ve got you.” Yes, love is strange. It is weak yet tough, vulnerable yet strong.
Die spreker sluit af met ‘n verdoemende observasie:
hulle glo dit is ‘n onbreekbare band wat hulle bind
en weet nie dis iets wat fyner is
en verwikkelder
as rag
Oliphant se gedig “Breek” (2007:7) belig die tema van mishandeling en kwesbaarheid binne die huwelik. Die spreker skets dit as ‘n plek waarin die mens steeds kwesbaar bly as gevolg van ‘n eksistensiële bedreiging soos fisiese mishandeling. Die man se aggressie teenoor sy vrou word in die eerste strofe vergelyk met die afbreek van ‘n huis:
hy versplinter haar vensters
breek haar deure af
slaan stene uit
Die voorstelling van die kwesbare vrou as “die huis”, word verder versterk deur die ontstellende verwysing na die “ruïne van haar lyf”:
kyk verstom
na hoe die ruïne van haar lyf
op die grond bly lê
verstom na die blare van sy hande
wat pas hamers was
Die hande wat eens “blare” was, word opeens “hamers” in die geweldadige aanval op sy vrou. Die woorde “ruïne” en “hamers” impliseer dat die skade só groot is dat dit haas op vernietiging neerkom. Hy toon egter berou deurdat hy “bieg”:
in wie se lyf hy nes
in wie se boesem hy bieg
‘n Treffende voorbeeld van kwesbaarheid is wanneer die jammerte uit die man se lyf ruk. Ironies genoeg vergewe sy vrou hom onvoorwaardelik omdat sy dit as haar plig beskou:
maar as die jammer uit sy lyf ruk
is dit sy wat hom aan haar boesem druk
haar gebreekte hande voor hom hou
sy is sy vróu
Die paartjie se huwelik bly steeds kwesbaar as gevolg van ‘n voortgesette ontkenning, manipulasie en intimidasie. Die slotsom is dat die atmosfeer in die huwelik uiters gespanne bly, en enige oomblik soos ‘n bord na die vloer sal val en in stukke breek:
terwyl hulle wag
en nie durf weet nie
hoe hulle wag
op wat van hulle gaan word
op die oomblik wat gaan val
soos ‘n bord
Volgens Basson (1995) dui die bloed in Bloed vloei in stilte waarskynlik op leed wat in stilte verduur word. ‘n Motivering hiervoor kom voor in “In stilte” (1983:21):
En as ek eendag seer sou kry
moenie huil nie…
die bloed is altyd daar
die bloed vloei in stilte.
In bogenoemde bundel verskyn seker een van Oliphant se mees persoonlike gedigte, “Elegie vir die pianis” (1983:7). Hy skryf oor die skielike dood van sy broer in ‘n motorongeluk. Die openingsstrofe tref diep:In die voorkamer staan die blink klavier
verslae
soos ‘n mond wat sy tong verloor het
Die gebruik van die relatief verhewe term “pianis” in plaas van ‘n meer beskeie beskrywing soos “klavierspeler”, dui daarop dat die musikant se vaardigheid hoog aangeslaan was. Die personifikasie in die eerste strofe, “soos ‘n mond wat sy tong verloor het” dui op hoe nouliks die instrument aan die speler verwant was. Daar ironie tref diep wanneer die musikant wat eens “een” met die “blink klavier” was, se vlees dodelik “verstrengel raak met metaal”:
Maar hoe was dit vir jou ou broer
toe jou vlees verstrengel raak met metaal?
Die verwysing na “gelag” en “geratel van teekoppies”, beeld uit hoe die ligte atmosfeer eensklaps in donkerte gedompel word. Die “vergeefse vertroosting van ‘n vader” beklemtoon die familie se magteloosheid teenoor die dood:
nou kan die telefoon enige gelag
of geratel van teekoppies
aan skerwe slaan
tot die histeriese geween van vroue
die vergeefse vertroostinge van ‘n vader
Die kwesbaarheid van die lewe breek aan wanneer die spreker sy broer se lyk moes uitken:
En nou?
ek wou nie glo nie
tot die dag in die lykhuis
toe ek finaal moes staar
na die gate in die hande van vreugde
Hierdie navorsing beklemtoon die wyse waarop Oliphant se fyn waarnemingsvermoë, diep empatie, en poëtiese oeuvre ‘n betekenisvolle bydrae lewer tot die literêre landskap. Sy gedigte nodig die leser uit tot ‘n sensitiewe en bedagsame beskouing van die menslike ervaring, waar kwesbaarheid nie slegs erken, maar ook omhels word as ‘n inherente deel van ons gedeelde bestaan. In Oliphant se woorde weerklink die kwesbaarheid van die mens as ‘n kragtige en transformerende stem, wat ons aanmoedig om die dieptes van ons eie menslikheid te ontgin.